"Wietsche doen dit keer op keer." So behoort Wietsche van der Westhuizen van Bellville se bufferplakker te lees. Wietsche beoog om vanjaar sy 31ste agtereenvolgende Comrades Marathon te voltooi op die ouderdom van 50.
Hy hardloop al van skooltyd af en het op 16 aan wedlope begin deelneem. Op drie geleenthede was hy die ontvanger van provinsiale kleure en het op 19 'n goue medalje gewen tydens die SA Atletiekkampioenskappe.
In 1978, op 19-jarige ouderdom, het Wietsche sy eerste Comrades suksesvol aangepak. Sy beste tyd van 6h29, nie 6h49 soos die Comrades-webwerf verkeerdelik aandui nie. Sy 30 medaljes sluit 6 silwer in.
In 1995 hardloop hy die Comrades met twee gekraakte ribbes. Hy was destyds nog in die onderwys betrokke en afrigter van sy skool se eerste rugbyspan. Tydens 'n oefening is hy hard laaggevat, gekraakte ribbes-hard. Hy kon daardie jaar nie vinnig hardloop nie, omdat dit te seer was en het meeste van die pad gestap. Sy tyd was 10h32.
Die mees komiese oomblik was egter in 1988 tydens sy 11de Comrades. Hy het gehardloop met geskeurde ligamente in sy linkerknie. 30 km van die einde af het hy pynpille gedrink en aan die slaap geraak teen ‘n lamppaal. ‘n Ander atleet het hom wakker geskud en ‘n ruk saam met hom gestap tot hy weer “by” was en toe saam gehardloop om seker te maak Wietsche maak klaar. Sy tyd was 8h32.
Wietsche se wedloopnommer is 4192, vir diegene wat hom dalk wil volg in vanjaar se Comrades.