Wie gaan die Bellville-kroon dra?

So wie gaan die Bellville-kroon dra in vanjaar se Twee Oseane?

Daar is ’n rekord aantal Bellville dames wat vanjaar deelneem aan die 56 km wedloop. Nuwe lid Theresa Brand was die gunsteling, maar die jongste nuus is dat sy in die 6-uur bus gaan wees en haar spaar vir die Comrades.

Dit los die deur oop vir Wilna White om vir die 4de agtereenvolgende jaar die 1ste plek in te neem. Dit is egter makliker gesê as gedaan met Louise Kock wat besig is om spoed op te tel. Dan hardloop die ervare Janine Fouche boonop kop aan kop met Louise. Glouda Smal het ook ter elfder ure besluit om deel te neem en kan op ’n goeie dag die voorlopers skrikmaak.

Dinge raak nog interessanter met die bespiegelings rondom die groentjies. Marian Cilliers het onlangs haar eerste marathon voltooi en toon baie potensiaal. Die onbekende Annerie Botha is beslis ook ’n aanspraakmaker, terwyl Rina van der Merwe tans van krag tot krag gaan.

In die manswedloop is die deur wawyd oop vir die groot vier. Corné Janse van Rensburg is ’n gunsteling met sy onlangse sub-3 marathon, maar hy het geen ervaring van ultramarathons nie. Ryan Hammond gaan ook voor hardloop en ken die pad, maar so ook verlede jaar se wenner, Bongani Plaatjie. Monty Sahd is ’n buiteperd, maar het die meeste ervaring van die span en is in vorm. As dié spulletjie mekaar hard genoeg druk sien ons dalk weer ’n silwer.