Brackenfell wil ons goed vat!

Ons brawe spioene anderkant Old Oak-weg het die week per posduif laat weet daar is onheil aan die broei in Brackenfell.

Die Bracke het glo ’n spesiale vergadering belê waarin daar besluit is om die Karoo in te val. Die doel van die bose sameswering is om te verhoed dat Bellville enige trofee huis toe neem na afloop van die Karoo wedlope.

Hulle werk glo al lánk aan die plan. Die eerste fase is al jare gelede geïmplementeer met die instelling van die skewe blou strepe op hul frokkies. Dit is glo met opset sonder enige estetiese oorweging ontwerp, sodat enige atleet wat daarna kyk naar sal raak en stop.

Ons het jou hulp nodig! Geen fracken Bracke in die Karoo! Kom saam en neem deel aan die Karoo wedlope. Lees Karoo toe vir meer inligting of kom vind meer uit by vanaand se Lente-braai. Hier is meer inligting oor Karoo verblyf. Onthou daai wyse woorde van die BAK-busbestuurder: “Moenie vra wat jou klub vir jou gedoen het nie, vra wat het jy vir jou klub gedoen!”

Gepraat van iets vir jou klub doen: Die tyd van die jaar steun ons op julle om ’n sukses te maak van ons gholfdag en wedloop. Verleen asseblief ’n helpende hand by die gholfdag of wedloop - of sommer albei.