Die 10 km-wedloop is in sy sestiende jaar en die organiseerder en voorsitter van die plaaslike atletiekklub, Thobile Ndzube, meen die doel is eenvoudig: Om mense byeen te bring. Mense soos Ruth Leverton, ’n veteraan van die Comrades- én Two Oceans-wedlope, wat vanjaar vir die tiende keer dié diamantvormigeroete verby stasie, sinkhuise, skeephouerhaarsalonne, sjebeens, huise en rye en rye juigende kinders kafgedraf het. “Ek dink dis fenomenaal om in die township-atmosfeer te draf. En dis ’n betekenisvolle wedloop, want dit vind plaas op Versoeningsdag en (deelnemers draf) verby gedenkplekke wat belangrik is vir die geskiedenis van Suid-Afrika,” meen Leverton.